Meteoriet

Die 2,7 m lange Hoba-meteoriet 22 van 60 ton in Namibië is die grootste bekende meteoriet in een stuk.[1]

'n Meteoriet is 'n soliede stuk afval uit die ruimte van 'n voorwerp soos 'n komeet, asteroïde of meteoroïde wat in die buitenste ruim ontstaan, sy reis deur die atmosfeer oorleef en die oppervlak van 'n planeet of maan tref. Wanneer die oorspronklike voorwerp die atmosfeer binnegaan, veroorsaak verskeie faktore soos wrywing, druk en chemiese wisselwerkings dat die atmosferiese gasse die liggaam laat verhit en energie laat uitstraal. Dit word dan 'n meteoor en vorm 'n vuurbal, of wat algemeen 'n "verskietende ster" genoem word. Sterrekundiges noem die helderste vuurballe boliede. Sodra dit op die groter liggaam se oppervlak beland, word die meteoor 'n meteoriet.

Meteoriete wissel baie in grootte. Vir geoloë is 'n bolied 'n meteoriet wat groot genoeg is om 'n slagkrater te laat.[2]

Meteoriete is tradisioneel in drie breë kategorieë ingedeel: steenmeteoriete, wat klippe is en hoofsaaklik uit silikaatminerale bestaan; ystermeteoriete, wat hoofsaaklik uit ysternikkel bestaan; en steen-ystermeteoriete, wat groot hoeveelhede metaal én klip bevat.

Moderne klassifikasiestelsels verdeel meteoriete in groepe volgens hulle struktuur, chemiese en isotopiese samestelling en mineralogie. Meteoriete kleiner as 2 mm word as "mikrometeoriete" geklassifiseer. Buiteaardse meteoriete is al op die Maan en Mars gevind.[3][4]

Valverskynsel

Die meeste meteoroïdes disintegreer wanneer hulle die Aarde se atmosfeer binnedring. Vyf tot 10 per jaar word waargeneem wat die Aarde tref.[5] Net 'n paar meteoriete is groot genoeg om 'n groot slagkrater te vorm. Die meeste bereik die oppervlak teen hulle terminale snelheid en veroorsaak hoogstens 'n klein gat.

Die NWA 859-ystermeteoriet met tekens van atmosferiese erosie.
Die slagkrater wat deur 'n meteoriet van 61,9 g veroorsaak is toe dit die dak van 'n huis in Noord-Kalifornië op 17 Oktober 2012 tref.

Groot meteoroïdes kan die Aarde tref met 'n aansienlike breuk van hulle ontsnapsnelheid en 'n hipersnelheidsslagkrater agterlaat. Die soort krater sal afhang van die grootte, snelheid, samestelling, graad van fragmentasie en die invallende hoek. Die krag van sulke botsings het die potensiaal om groot verwoesting te saai.[6][7]

Die gereeldste hipersnelheidskratervorming op Aarde word veroorsaak deur ystermeteoroïdes, wat die grootste kans het om ongeskonde deur die atmosfeer te klief. In teenstelling daarmee word relatief groot steen- of ysliggame soos klein komete of asteroïdes, van tot miljoene tonne, in die atmosfeer uiteengeskeur en maak hulle nie groot slagkraters nie.[8] Hoewel sulke voorvalle ongewoon is, kan hulle 'n aansienlike skudding veroorsaak; die bekende Toengoeska-voorval is moontlik die gevolg van so 'n gebeurtenis.

Baie groot steenvoorwerpe met 'n deursnee van honderde meters en 'n gewig van tien miljoene tonne kan die oppervlak bereik en groot kraters veroorsaak, maar is baie skaars. Sulke voorvalle het gewoonlik so baie energie dat die voorwerp heeltemal vernietig word en geen meteoriet agterlaat nie. (Die heel eerste voorbeeld van 'n steenmeteoriet wat 'n groot krater veroorsaak het, die Morokweng-slagkrater in Suid-Afrika, is in Mei 2006 aangemeld.)[9]

Verskeie verskynsels is aangeteken waar ooggetuies 'n meteoriet sien val het wat te klein was om 'n hipersnelheidskrater te veroorsaak.[10] Die vuurbal wat gevorm word wanneer 'n meteoroïde deur die atmosfeer trek, kan baie helder wees en net so 'n skerp lig soos die Son veroorsaak, hoewel die meeste baie dowwer is en dalk nie eens in die dag gesien sal word nie. Verskeie kleure is aangemeld, insluitende geel, groen en rooi.

Ligflitse kan ontstaan terwyl die voorwerp opbreek. Ontploffings, knalgeluide en rommelings word dikwels gehoor tydens die val van 'n meteoriet. Dit kan veroorsaak word deur supersoniese knalle sowel as skokgolwe wat deur fragmentasie meegebring word. Nadat die vuurbal deur die atmosfeer getrek het, word 'n stofspoor soms minute lank gesien.

Omdat meteoriete verhit word wanneer hulle die atmosfeer binnekom, smelt hulle oppervlakke en ondervind hulle erosie. Hulle kan tydens dié proses in verskillende vorms gegraveer word. As die meteoriet sy oriëntasie behou terwyl hy val en nie tol nie, kan dit 'n keëlvorm kry. As dit snelheid verloor, kan die gesmelte oppervlaklaag in 'n fusiekors verhard. Op die meeste meteoriete is dit swart.

Meteoroïdes wat in die atmosfeer disintegreer, kan as meteorietreëns neerval, wat skaars is. Die gebied waaroor 'n meteorietreën neerstort, word sy verstrooiingsveld genoem. Verstrooiingsvelde het gewoonlik 'n elliptiese vorm, met 'n hoofas parallel met die vlugrigting. In die meeste gevalle word die grootste meteoriete in 'n reën op die verste afstand in die verstrooiingsveld aangetref.[11]

Klassifikasie

Die Murnpeowie-meteoriet, 'n ystermeteoriet met duike wat soos vingerafdrukke lyk
Die Marília-meteoriet, 'n chondriet H4, wat in 1971 in Brasilië geval het.
'n Gepoleerde stuk van die Esquel-meteoriet, 'n steen-ystermeteoriet. Geelgroen olivienkristalle word omhul deur die ysternikkelmatriks.

Die meeste meteoriete is steenmeteoriete, wat as chondriete en achondriete geklassifsieer word. Net sowat 6% van meteoriete is yster- of gemengde meteoriete. Die moderne klassifikasie van meteoriete is ingewikkeld. Krot et al. (2007)[12] som dit op.

Sowat 86% van meteoriete is chondriete,[13][14][15] wat genoem is na die klein, ronde deeltjies wat hulle bevat. Dié deeltjies, of chondrules, bestaan hoofsaaklik uit silikaatminerale wat lyk of hulle gesmelt het terwyl hulle vry in die ruimte rondgedryf het. Sekere soorte chondriete bevat ook klein hoeveelhede organiese materiaal, insluitende aminosure, en presolêre korrels. Chondriete is gewoonlik sowat 4,55 miljard jaar oud en verteenwoordig vermoedelik materiaal van die asteroïdegordel wat nooit met groter liggame versmelt het nie. Nes komete, is chondrietasteroïdes van die oudste en primitiefste materiale in die sonnestelsel. Chondriete word dikwels beskou as die "boustene van die planete".

Sowat 8% van meteoriete is achondriete, wat beteken hulle bevat nie chondrules nie. Van hulle is soortgelyk aan stollingsgesteentes op Aarde. Die meeste achondriete is ook antieke rotse en verteenwoordig vermoedelik korsmateriaal of gedifferensieerde planetesimale. Een groot familie achondriete (die HED-meteoriete) het dalk op Vesta ontstaan, hoewel dié bewering betwis word.[16][17] Ander kom van ongeïdentifiseerde asteroïdes. Twee klein groepe achondriete is spesiaal, omdat hulle jonger is en nie lyk of hulle in die asteroïdegordel ontstaan het nie. Een van dié groepe kom van die Maan af en sluit rotse in soortgelyk aan dié wat die Apollo- en Loena-ruimteprogram na die Aarde teruggebring het. Die ander groep is feitlik vir seker van Mars af en is die enigste materiaal van ander planete wat deur die mens teruggebring is Aarde toe.

Sowat 5% van meteoriete wat gesien val is, is ystermeteoriete, wat bestaan uit ysternikkelallooie. Die meeste ystermeteoriete kom vermoedelik van die kern van planetesimale wat eens gesmelt was. Soos met die Aarde, het die digter metaal van die silkaatmateriaal geskei, na die middel van die planetesimaal afgesak en sy kern gevorm. Nadat die planetesimaal gestol het, het dit opgebreek in 'n botsing met 'n ander planetesimaal. Vanweë die min ystermeteoriete wat geval het in gebiede soos Antarktika, waar die meeste meteoriete wat val gevind kan word, is dit moontlik dat die persentasie ystermeteoriete wat val minder as 5% is.[18][19]

Die oorblywende 1% van meteoriete is steen-ystermeteoriete. Hulle is 'n mengsel van ysternikkel en silikaatmateriale. Die twee hoofgroepe is pallasiete en mesosideriete.

Chemie

In Maart 2015 het Nasa-wetenskaplikes berig komplekse organiese verbindings wat in DNS en RNS aangetref word, is in die laboratorium gevorm onder buiteruimtoestande met die gebruik van chemikalieë soos pirimidien, wat in meteoriete voorkom. Pirimidien en polisikliese aromatiese koolwaterstowwe kon gevorm gewees het in rooireuse of in interstellêre stof en gaswolke, volgens die wetenskaplikes.[20]

In Januarie 2018 het navorsers ontdek 4,5 miljard jaar oue mateoriete wat op Aarde ontdek is, bevat vloeibare water en organiese stowwe van prebiotiese kompleks wat bestanddele van lewe kan wees.[21][22]

In November 2019 het wetenskaplikes berig hulle het vir die eerste keer suikermolekules bespeur in meteoriete, insluitende ribose, wat daarop dui dat chemiese prosesse op asteroïdes sommige verbindings kan produseer wat noodsaaklik vir lewe is.[23][24]

In April 2022 het 'n Japannese groep berig hulle het adenien (A), timien (T), guanien (G), sitosien (C) en urasiel (U) in koolstofryke meteoriete gevind. Dié verbindings is boustene van DNS en RNS, die genetiese kode van alle lewe op Aarde. Dié verbindings het ook spontaan voorgekom in 'n laboratoriumopset wat toestande in die buitenste ruim nageboots het.[25][26]

Verwering

Die meeste meteoriete dateer uit die vroeë sonnestelsel en is verreweg die oudste bestaande materiaal op Aarde. Ontledings van aardverwering weens water, sout, suurstof, ensovoorts word gebruik om die graad van wysiging te bepaal wat 'n meteoriet ondergaan het. Verskeie kwalitatiewe verweringsaanduidings is toegepas op Antarktiese en woestynvoorbeelde.[27]

Die algemeenste verweringskale wat gebruik word, vir gewone chondriete, wissel van W0 (ongerepte staat) tot W6 (kwaai verandering).

Fossiele meteoriete

"Fossiele" meteoriete word soms deur geoloë ontdek. Hulle is die kwaai verweerde oorblyfsels van meteoriete wat in die verre verlede op Aarde geval en goed genoeg in sedimentneerslae bewaar gebly het dat hulle deur mineralogiese en geochemiese studies herken kan word. Die Thorsberg-kalkgroefsteen in Swede het meer as 100 fossiele meteoriete uit die Ordovisium opgelewer, waarvan byna almal kwaai verweerde L-chondriete is wat steeds onder 'n petrografiese mikroskoop soos die oorspronklike meteoriete lyk, maar waarvan feitlik al die oorspronklike materiaal vervang is deur aardse sekondêre mineralisasie.

Die bewys van hulle buiteaardse oorsprong word deels gedemonstreer deur isotopiese ontledings van oorblywende edelgesteentekorrels, 'n mineraal wat algemeen in meteoriete is, onoplosbaar in water is en in staat is om chemies onveranderd te bly in aardse verweringstoestande. Wetenskaplikes glo dié meteoriete, wat ook in Rusland en China ontdek is, het almal dieselfde bron: 'n botsing wat iewers tussen Mars en Jupiter voorgekom het.[28][29][30][31] Een van dié fossiele meteoriete, wat Österplana 065 gedoop is, verteenwoordig oënskynlik 'n sekere soort meteoriet wat "uitgesterf" het in die sin dat dit nie meer op die Aarde val nie, omdat die moederliggaam al heeltemal uitgewis is uit die reservoir van naby-aarde-voorwerpe.[32]

Versameling

'n "Meteorietval", ook genoem 'n "waargenome val", is 'n meteoriet wat die Aarde tref nadat mense of toestelle die val waargeneem het. Enige ander meteoriet word 'n "meteorietvonds" genoem.[33][34] Daar is meer as 1 100 aangetekende valle wat in algemeen gebruikte databasisse voorkom.[35][36][37] Van die meeste is daar monsters in moderne versamelings. Teen Januarie 2019 het die Meteorietbulletindatabasis 1 180 bevestigde valle bevat.[35]

Meteorietvalle

'n Motorsitplek wat in 1938 deur die Benld-meteoriet getref is, met die meteoriet in die inlas. Dit was 'n waargenome val.

Die meeste meteorietvalle word versamel op grond van ooggetuieverslae van die vuurbal of die impak van die voorwerp op die grond, of albei. Hoewel die moontlikheid dat 'n meteoriet die Aarde kan tref dus oral in die wêreld ewe groot is, is geverifieerde meteorietvalle geneig om gekonsentreerd te wees in gebiede met hoër bevolkingsdigthede soos Europa, Japan en Noord-Indië.

'n Klein getal meteorietvalle is al waargeneem met outomatiese kameras en herwin nadat die valplek uitgewerk is. Die eerste een was die Přibram-meteoriet in 1959 in Tsjeggo-Slowakye (nou Tsjeggië).[38] In dié geval het twee kameras wat gebruik is om meteore af te neem, die vuurbal gefotografeer. Die foto's is gebruik om die ligging van die val te bereken, maar ook om vir die eerste keer 'n akurate wentelbaan vir 'n herwinde meteoriet te bereken.

Ander lande het daarna geoutomatiseerde waarnemingsprogramme daargestel met die doel om vallende meteoriete te bestudeer. Een daarvan was die Prairie-netwerk, wat van 1963 tot 1975 deur die Smithsonian- Astrofisiese Sterrewag in die middeweste van Amerika bedryf is. Dié program het die val van die Lost City-chondriet waargeneem en wetenskaplikes in staat gestel om dit te herwin en sy wentelbaan te bereken.[39] Nog 'n program in Kanada, die Meteorite Observation and Recovery Project, is van 1971 tot 1985 bedryf. Dit het ook 'n enkele meteoriet, Innisfree, in 1977 waargeneem.[40] Eindelik het waarnemings deur die European Fireball Network, 'n uitspruitsel uit die een in Tsjeggo-Slowakye, gelei tot die ontdekking en wentelbaanberekening van die Neuschwanstein-meteoriet in 2002.[41] Nasa het 'n geoutomatiseerde program wat meteore bespeur en verskeie parameters daarvan bereken.[42]

Meteorietvondste

Tot die 20ste eeu is net 'n paar honderd meteorietvondste ontdek. Meer as 80% daarvan was yster- en steen-ystermeteoriete, wat maklik van die plaaslike gesteentes uitgeken kon word. Tot vandag word net 'n paar steenmeteoriete per jaar aangemeld wat as "toevallige" vondste beskou kan word. Die feit dat daar nou meer as 30 000 meteorietvondste in die wêreld se versamelings is, is te danke aan die Amerikaanse meteoorkundige Harvey H. Nininger se ontdekking dat daar baie meer meteoriete op die Aarde se oppervlak is as wat voorheen gedink is.

Verenigde State

Nininger se strategie was om na meteoriete te soek op die Groot Vlaktes van die Verenigde State, waar die grond grootliks bewerk is en min rotse voorkom. Tussen die laat 1920's en die 1950's het hy deur die gebied gereis en plaaslike inwoners opgevoed oor hoe meteoriete lyk en wat hulle moet doen as hulle dink hulle een gevind het terwyl hulle byvoorbeeld 'n land bewerk. Die gevolg was die ontdekking van meer as 200 nuwe meteoriete, hoofsaaklik steenmeteoriete.[43]

In die laat 1960's was Roosevelt County, Nieu-Mexiko, 'n besonder goeie plek om meteoriete te vind. Ná die ontdekking van 'n paar in 1967 het 'n openbare bewusmakingsveldtog daartoe gelei dat byna 100 nuwe spesimens in die volgende paar jaar ontdek is, baie deur een mens, Ivan Wilson. Byna 140 meteoriete is sedert 1967 in die streek ontdek. Die aarde daar was oorspronklik bedek deur 'n vlak laag los grond bo-op 'n harde grondlaag. Tydens 'n tydperk van groot stofstorms in die 1930's is die los grond weggewaai en enige rotse en meteoriete wat teenwoordig was, is op die oppervlak ontbloot.[44]

'n Steenmeteoriet (H5) wat in 2006 net noord van Barstow, Kalifornië, ontdek is.

Van die middel 1960's af het amateurmeteorietjagters die droë dele van die Suidwes-VSA begin deursoek.[45] Tot op datum is duisende meteoriete herwin van droë meerbodems en ander dele van 'n paar woestyne. Belangrike vondste sluit in die Old Woman-meteoriet van drie ton en die verstrooiingsvelde van die Franconia- en Gold Basin-meteoriet; honderde kilogramme meteoriete is uit elk van hulle herwin.[46][47][48]

Antarktika

'n Paar meteoriete is tussen 1912 en 1964 op Antarktika gevind. In 1969 het 'n Japannese ekspedisie nege meteoriete in 'n ysveld naby die Yamato-berge ontdek. Met dié ontdekking het dit duidelik geword dat die beweging van yslae meteoriete in sekere gebiede laat ophoop.[49]

Nadat 'n dosyn ander spesimens in 1973 op dieselfde plek gevind is, is 'n Japannese ekspedisie in 1974 gestuur om na nog meteoriete te soek. Die span het byna 700 ontdek.[50]

Kort daarna het die VSA sy eie program, die Antarctic Search for Meteorites (ANSMET)-program, begin om na meteoriete op Antarktika te soek. Hulle het al met die Transantarktiese Berge aan die ander kant van die kontinent langs gewerk.[51] Europese spanne het ook stelselmatige soektogte uitgevoer. Die eerste was met 'n konsortium bekend as EUROMET in die 1990/'91-seisoen. 'n Ander een was die Italiaanse Programma Nazionale di Ricerche in Antartide.[52]

'n Chinese span soek sedert 2000 na meteoriete. Die Koreaanse program KOREAMET is in 2007 van stapel gestuur en het 'n paar meteoriete versamel.[53] Die gesamentlike poging van al dié ekspedisies het gelei tot die ontdekking van 23 000 geklassifiseerde meteoriete sedert 1974, met duisende wat nog geklassifiseer moet word.[54]

Australië

In die tyd toe konsentrasies meteoriete op die koue Antarktika ontdek is, het versamelaar ook uitgevind talle meteoriete kom in die warm woestyne van Australië voor. Verskeie dosyne meteoriete was reeds gevind in die Nullarbor-streek van Wes- en Suid-Australië. In stelselmatige soektogte tussen omstreeks 1971 en vandag is nog 500 ontdek.[55]

Die rede dat die meteoriete hier ontdek word, is dat die omgewing 'n plat vlakte is wat deur kalksteen bedek word. In die uiters droë klimaat was daar tienduisende jare lank relatief min verwering en sedimentasie op die oppervlak, en dit het meteoriete laat versamel sonder dat dit begrawe of vernietig is. Die donker meteoriete kan maklik uitgeken word tussen die kalksteenklippe, wat 'n heel ander voorkoms het.

Die Sahara

Dié klein meteoriet kom van die NWA 869-verstrooiingsveld naby Tindouf, Algerië. Dit word tans geklassifiseer as 'n L3.8-6- gewone chondriet. Die baie rotsfragmente en chondrules kan gesien word.[56]

In 1986-'87 het 'n Duitse span wat seismiese stasies geïnstalleer het terwyl hulle na olie geprospekteer het, omtrent 65 meteoriete op 'n plat woestynvlakte sowat 100 km suidoos van Dirj (Daraj), Libië, ontdek. 'n Paar jaar later het 'n woestyngeesdriftige foto's gesien van meteoriete wat op Antarktika deur wetenskaplikes herwin word, en hy was seker hy het soortgelyke verskynsels in Noord-Afrika gesien. In 1989 het hy sowat 100 meteoriete van verskillende terreine in Libië en Algerië herwin. Oor die volgende paar jaar het hy en ander nog minstens 400 gekry, gewoonlik op plekke wat as regs of hamadas bekend was: plat gebiede bedek met net klein klippies en min sand.[57] Donkerkleurige meteoriete kan maklik op sulke plekke uitgeken word. In die geval van verskeie meteorietvelde maak die ligkleurige geologie dit veral maklik om meteoriete te identifiseer.[58]

Hoewel meteoriete baie dekades lank kommersieel verkoop en deur die beoefenaars van stokperdjies versamel is, is die meeste tot met die vondste in die Sahara van die laat 1980's en vroeë 1990's aan museums of soortgelyke instellings verkoop waar hulle uitgestal en vir wetenskaplike navorsing beskikbaar gestel is. Die skielike beskikbaarheid van 'n groot aantal meteoriete wat op redelik begaanbare terreine gevind is (veral in vergelyking met Antarktika), het gelei tot 'n vinnige toename in die kommersiële versameling van meteoriete. Dié proses is verder versnel met die ontdekking in 1997 van meteoriete van Mars en die Maan in Libië. Teen die laat 1990's is privaat versamelingsekspedisies deur die hele Sahara van stapel gestuur. Spesimens van meteoriete wat op dié manier bekom is, beland steeds in navorsingsversamelings, maar die meeste word aan privaat versamelaars verkoop. Vanweë dié ekspedisies staan die getal goed beskrewe meteoriete wat in Algerië en Libië ontdek is, op meer as 500.[59]

Noordwes-Afrika

Meteorietmarkte het in die laat 1990's in Noordwes-Afrika begin ontstaan, veral in Marokko, vanweë Westerse kommersialisme en 'n toenemende getal versamelaars. Die meteoriete is verskaf deur nomades en plaaslike inwoners wat die woestyne gefynkam het vir spesimens om te verkoop. Duisende meteoriete is so versprei, dikwels sonder inligting oor hoe, waar en wanneer hulle ontdek is. Hulle is sogenaamde "Noordwes-Afrika-meteoriete". Wanneer hulle geklassifiseer word, kry hulle die naam NWA (vir Noordwes-Afrika) gevolg deur 'n nommer.[60]

Daar word algemeen aanvaar NWA-meteoriete se oorsprong is in Marokko, Algerië, Wes-Sahara en Mali. Byna al dié meteoriete verlaat Afrika via Marokko. Talle belangrike meteoriete, insluitende van Mars en die Maan, is ontdek en het wetenskaplike deur dié roete bereik. Van hulle sluit in die Tissint-meteoriet en NWA 7034. Tissint was die eerste waargenome val van 'n Marsmeteoriet in meer as 50 jaar, en NWA 7034 is die oudste bekende meteoriet wat van Mars af kom.

Arabiese Skiereiland

'n Meteorietvonds waar dit geval het in die Saoedi-Arabiese woestyn. Dis moontlik 'n chondriet en weeg 408,5 gram.

In 1999 het meteorietjagters ontdek die woestyn in Suid- en Setraal-Oman is ook 'n goeie plek om spesimens te vind. Van middel 2009 af het die gruisvlaktes van die Dhofar- en die Al Wusta-streek in Oman sowat 5 000 meteoriete opgelewer. Onder hulle is baie meteoriete van Mars en die Maan, wat Oman 'n besonder belangrike gebied vir versamelaars en wetenskaplikes maak. Internasionale spanne wetenskaplikes van Oman en Europa het ook al meteoriete daar gesoek.

Die herwinning van meteoriete van Oman word tans deur 'n nasionale wet verbied, maar 'n aantal internasionale jagters verwyder steeds spesimens wat nou as nasionale skatte beskou word.

In mense se lewe

'n Lans gemaak van 'n narwal se slagtand met 'n kop van meteorietyster.

Meteoriete is al in die menslike kultuur as seremoniële en godsdienstige voorwerpe gebruik sedert die vroegste dae dat hulle ontdek is. Ook is oor hulle geskryf in verband met verskynsels in die lug en 'n bron van gevaar. Die oudste bekende ysterartefakte is nege klein krale wat uit meteorietyster gekap is. Hulle is in Noord-Egipte ontdek en dateer vir seker uit 3200 v.C.[61]

Seremoniële en godsdienstige gebruik

Hoewel die gebruik van die metaal wat in meteoriete voorkom, te vinde is in die mites van baie lande en kulture, waar die buiteruimtelike bron daarvan dikwels besef is, het wetenskaplike dokumentasie eers in die laaste paar eeue ontstaan.

Meteoriete was dalk die bron van kultusaanbidding. Die kultus in die Tempel van Artemis in Efese, een van die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld, het moontlik ontstaan met die waarneming en herwinning van 'n meteoriet wat mense destyds geglo het vanaf Jupiter, die Romeinse hoofgod, uit die lug geval het.[62] Daar is verslae dat 'n heilige klip in die tempel 'n meteoriet kon gewees het.

Dikwels is aangeneem dat die Swart Steen in die muur van die Kaäba 'n meteoriet is, maar die min bewyse daarvoor is onoortuigend.[63][64]

Sommige Amerikaanse Indiane het meteoriete as seremoniële voorwerpe gebruik. In 1915 is 'n ystermeteoriet van 61 kg in 'n begraafplaas uit omstreeks 1100-1200 n.C. in Arizona ontdek wat met groot respek in 'n veredoek toegedraai was.[65] 'n Klein pallasiet (yster-steenmeteoriet) is in 'n erdewarepot gevind in 'n ou begraafplaas van Pojoaque Pueblo, Nieu-Mexiko. Niniger noem ook verskeie ander sulke gevalle.[65][66]

Historiese geskrifte

In die Middeleeuse China, tydens die Song-dinastie, het die wetenskaplike Shen Kuo in 1064 n.C. 'n meteorietval in Changzhou beskryf. Hy het berig 'n "harde lawaai wat soos donderweer geklink het, is in die lug gehoor; 'n reusester, amper soos die maan, het in die suidooste verskyn". Later is die krater gevind met die steeds warm meteoriet binne-in.[67]

Twee van die vroegste aangetekende meteorietvalle in Europa is die Elbogen- en Ensisheim-meteoriet (in onderskeidelik 1400 en 1492). Die Duitse fisikus Ernst Florens Chladni was die eerste persoon wat (in 1794) die idee geopper het dat meteoriete klippe is wat dalk nie van die Aarde af kom nie, maar vanuit die ruimte.[68] Sy boekie was getiteld Oor die oorsprong van die ystermassas wat deur Pallas gevind is en ander soortgelykes, en oor sommige verwante natuurverskynsels.[69] In die boekie gee hy al die beskikbare inligting oor verskeie meteorietvondste en -valle en kom hy tot die gevolgtrekking dat hulle hulle oorsprong in die buitenste ruim het. Die wetenskaplike gemeenskap van destyds het met weerstand en bespotting gereageer.[70]

Dit het amper 10 jaar geduur voor die oorsprong van meteoriete algemeen aanvaar is, danksy die werk van die Franse wetenskaplike Jean-Baptiste Biot en die Britse chemikus Edward Howard.[71] Biot se studie, wat deur die Franse Wetenskapakademie geïnisieer is, is begin ná die val van duisende meteoriete op 26 April 1803 uit die lug bo L'Aigle, Frankryk.[72][73][74]

Die tref van mense of eiendom

In baie eerste- en tweedehandse verslae in die geskiedenis word vertel van meteoriete wat mense en diere doodgemaak het. Een voorbeeld is uit 1490 n.C. in China wat glo duisende mense doodgemaak het.[75] John Lewis het van dié verslae saamgestel en som dit so op: "Niemand in die aangetekende geskiedenis as al ooit in die teenwoordigheid van 'n meteoritikus of mediese dokter deur 'n meteoriet doodgemaak nie" en "resensente wat tot verregaande negatiewe gevolgtrekkings kom, haal gewoonlik nie een van die primêre publikasies aan waarin die ooggetuies van hulle ondervinding vertel nie, en gee geen bewyse dat hulle dit gelees het nie".[76]

Moderne verslae van skade deur meteoriete sluit in:

  • In 1954 het die Hodges-meteoriet in Sylacauga, Alabama, geval.[77] Dit was 'n steenchondriet van 4 kg[78] wat deur 'n dak getrek en 'n inwoner beseer het.
  • 'n Fragment van sowat 3 g van die Mbale-meteoriet, wat in Uganda geval het, het iemand getref maar nie beseer nie.[79]
  • In Oktober 2021 het 'n meteoriet deur die dak van 'n huis in Golden, Brits-Columbië, getrek en op 'n inwoner se bed geval.[80]

Merkwaardige meteoriete

Name

Meteoriete word gewoonlik (as dit prakties is) genoem na die plek waar hulle ontdek is, gewoonlik 'n dorp of geografiese verskynsel daar naby. Wanneer baie meteoriete op een plek ontdek word, kan die naam deur 'n syfer of letter gevolg word, soos Allan Hills 84001 of Dimmitt (b). Die naam wat die Meteoritiese Vereniging daaraan toeken, word deur wetenskaplikes en die meeste versamelaars gebruik.[81]

Voorbeelde

  • Allende – grootste bekende koolstofhoudende chondriet (Chihuahua, Mexiko, 1969).
  • Allan Hills A81005 – Die eerste meteoriet waarvan die oorsprong as die Maan vasgestel is.
  • Allan Hills 84001 – 'n Meteoriet van Mars af wat kamtig bewys het daar is lewe op die planeet.
  • Campo del Cielo – 'n groep ystermeteoriete wat verbind word met 'n verstrooiingsveld met dieselfde naam met minstens 26 kraters in Argentinië. Die gewig van al die meteoriete wat daar gevind is, is meer as 100 ton.[82]
  • Gibeon – 'n Groot ystermeteoriet in Namibië wat die grootste bekende verstrooiingsveld geskep het.
  • Hoba – in Nambië, die grootste meteoriet ter wêreld in een stuk.
  • Kaap York – een van die grootstes ter wêreld. 'n Fragment van 34 ton word in die Amerikaanse Natuurhistoriese Museum gehuisves en is die grootste meteoriet wat in 'n museum uitgestal word.
  • Meteorito de Bacubirito – 'n Meteoriet wat na raming 18-27 ton geweeg het.
  • Sichote-Alin – Massiewe ystermeteoriet wat die Aarde op 12 Februarie 1947 in Suidoos-Rusland getref het.
  • Tucson-ring – Ringvormige meteoriet wat deur 'n grofsmid as 'n aambeeld gebruik is in Tucson, Arizona.[83]
  • Tsjeljabinsk – 'n Asteroïde met 'n deursnee van 17 m en gewig van 10 000 ton[84] het die atmosfeer bo Tsjeljabinsk, Rusland, op 15 Februarie 2013 getref teen 18 km/s. Dit het 'n helder lig veroorsaak. [85] 'n Paar klein meteorietstukke is sedertdien daar naby gekry.[86]

Groot slagkraters

Bekende disintegrerende meteoroïdes

Sien ook

Verwysings

  1. McSween, Harry (1999). Meteorites and their parent planets (2de uitg.). Cambridge: Cambridge University Press. ISBN 978-0521583039. OCLC 39210190.
  2. C. Wylie Poag (1 April 1998), The Chesapeake Bay Bolide: Modern Consequences of an Ancient Cataclysm, US Geological Survey, Woods Hole Field Center, https://woodshole.er.usgs.gov/epubs/bolide/introduction.html, besoek op 16 September 2011 
  3. McSween Jr., Harry Y. (1976). "A new type of chondritic meteorite found in lunar soil". Earth and Planetary Science Letters. 31 (2): 193–199. Bibcode:1976E&PSL..31..193M. doi:10.1016/0012-821X(76)90211-9.
  4. Rubin, Alan E. (1997). "The Hadley Rille enstatite chondrite and its agglutinate-like rim: Impact melting during accretion to the Moon". Meteoritics & Planetary Science. 32 (1): 135–141. Bibcode:1997M&PS...32..135R. doi:10.1111/j.1945-5100.1997.tb01248.x.
  5. "Meteoritical Bulletin".
  6. Chapman, Clark R.; Durda, Daniel D.; Gold, Robert E. (2001). The Comet/Asteroid Impact Hazard: A Systems Approach (Report). Johns Hopkins University Applied Physics Laboratory. http://www.internationalspace.com/pdf/NEOwp_Chapman-Durda-Gold.pdf. 
  7. Make your own impact at the University of Arizona. Lpl.arizona.edu. Retrieved on 17 December 2011.
  8. Bland, P.A.; Artemieva, Natalya A. (2006). "The rate of small impacts on Earth". Meteoritics and Planetary Science. 41 (4): 607–631. Bibcode:2006M&PS...41..607B. doi:10.1111/j.1945-5100.2006.tb00485.x. S2CID 54627116.
  9. Maier, W.D.; Andreoli, M. A. G.; McDonald, I.; Higgins, M. D.; Boyce, A. J.; Shukolyukov, A.; Lugmair, G. W.; Ashwal, L. D.; Gräser, P.; et al. (2006). "Discovery of a 25-cm asteroid clast in the giant Morokweng impact crater, South Africa". Nature. 441 (7090): 203–206. Bibcode:2006Natur.441..203M. doi:10.1038/nature04751. PMID 16688173. S2CID 4373614.
  10. Sears, D. W. (1978). The Nature and Origin of Meteorites. New York: Oxford Univ. Press. ISBN 978-0-85274-374-4.
  11. Norton, O. Richard; Chitwood, Lawrence (2008-05-25). Field Guide to Meteors and Meteorites (in Engels). Springer Science & Business Media. p. 184. ISBN 978-1-84800-157-2.
  12. Krot, A.N.; Keil, K.; Scott, E.R.D.; Goodrich, C.A.; Weisberg, M.K. (2007). "1.05 Classification of Meteorites". In Holland, Heinrich D.; Turekian, Karl K. (reds.). Treatise on Geochemistry. 1. Elsevier Ltd. pp. 83–128. doi:10.1016/B0-08-043751-6/01062-8. ISBN 978-0-08-043751-4.
  13. Meteoritical Bulletin Database. Lpi.usra.edu (1 January 2011). Besoek op 17 Desember 2011.
  14. The NHM Catalogue of Meteorites Geargiveer 30 Maart 2008 op Wayback Machine. Internt.nhm.ac.uk. Besoek op 17 Desember 2011.
  15. MetBase. Metbase.de. Besoek op 17 Desember 2011.
  16. "Dawn's Targets – Vesta and Ceres". Nasa.gov. 12 Julie 2011. Besoek op 4 Mei 2013.
  17. Wasson, John T. (2013). "Vesta and extensively melted asteroids: Why HED meteorites are probably not from Vesta". Earth and Planetary Science Letters. 381: 138–146. Bibcode:2013E&PSL.381..138W. doi:10.1016/j.epsl.2013.09.002.
  18. "Meteoritical Bulletin: Antarctic Iron Meteorites".
  19. "Meteoritical Bulletin: All Antarctic Meteorites".
  20. Marlaire, Ruth (3 Maart 2015). "NASA Ames Reproduces the Building Blocks of Life in Laboratory". NASA. Besoek op 5 Maart 2015.
  21. Lawrence Berkeley National laboratory Staff (10 Januarie 2018). "Ingredients for life revealed in meteorites that fell to Earth – Study, based in part at Berkeley Lab, also suggests dwarf planet in asteroid belt may be a source of rich organic matter". AAAS-Eureka Alert. Besoek op 11 Januarie 2018.
  22. Chan, Queenie H. S.; et al. (10 Januarie 2018). "Organic matter in extraterrestrial water-bearing salt crystals". Science Advances. 4 (1, eaao3521): eaao3521. Bibcode:2018SciA....4O3521C. doi:10.1126/sciadv.aao3521. PMC 5770164. PMID 29349297.
  23. Steigerwald, Bill; Jones, Nancy; Furukawa, Yoshihiro (18 November 2019). "First Detection of Sugars in Meteorites Gives Clues to Origin of Life". NASA. Besoek op 18 November 2019.
  24. Furukawa, Yoshihiro; et al. (18 November 2019). "Extraterrestrial ribose and other sugars in primitive meteorites". Proceedings of the National Academy of Sciences of the United States of America. 116 (49): 24440–24445. Bibcode:2019PNAS..11624440F. doi:10.1073/pnas.1907169116. PMC 6900709. PMID 31740594.
  25. Oba, Yasuhiro; et al. (26 April 2022). "Identifying the wide diversity of extraterrestrial purine and pyrimidine nucleobases in carbonaceous meteorites". Nature Communications. 13 (2008): 2008. Bibcode:2022NatCo..13.2008O. doi:10.1038/s41467-022-29612-x.
  26. "These meteorites contain all of the building blocks of DNA", LiveScience, 28 April 2022
  27. P. A. Bland, M. E. Zolensky, G. K. Benedix, M. A. Sephton. "Weathering of Chondritic Meteorites"
  28. Heck, Philipp (12 November 2014). "Fossil Meteorites Arrive at The Field Museum". Field Museum of Natural History. Besoek op 4 Maart 2022.
  29. Muller, Thomas. "A rain of L-Chondrites in the Thorsberg quarry at Kinnekulle, southern Sweden". Besoek op 27 Augustus 2022.
  30. "Fossil Meteorites". meteorites.fieldmuseum.org. Field Museum. Besoek op 27 Augustus 2022.
  31. Boehnlein, David (29 November 2017). "The story of the fossil meteorites". Astronomy.com. Astronomy Magazine. Besoek op 27 Augustus 2022.
  32. Schmitz, B.; Yin, Q. -Z; Sanborn, M.E.; Tassinari, M.; Caplan, C.E.; Huss, G.R. (14 Junie 2016). "A new type of solar-system material recovered from Ordovician marine limestone". Nature Communications. 7: 11851. Bibcode:2016NatCo...711851S. doi:10.1038/ncomms11851. PMC 4911632. PMID 27299793.
  33. Weisberg, Michael K.; McCoy, Timothy J.; Krot, Alexander N. "Systematics and Evaluation of Meteorite Classification" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 19 Augustus 2014.
  34. Oriti, Ronald A.; Starbird, William B. (1977). Introduction to astronomy. Glencoe Press. p. 168. ISBN 978-0-02-478560-2.
  35. 35,0 35,1 "Meteoritical Bulletin Database". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Desember 2015.
  36. "The Meteorite Catalogue Database at the Natural History Museum". internt.nhm.ac.uk. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Augustus 2006.
  37. "MetBase". metbase.de. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Desember 2006.
  38. Ceplecha, Z. (1961). "Multiple fall of Příbram meteorites photographed". Bull. Astron. Inst. Czechoslovakia. 12: 21–46. Bibcode:1961BAICz..12...21C.
  39. McCrosky, R.E.; Posen, A.; Schwartz, G.; Shao, C.-Y. (1971). "Lost City Meteorite–Its Recovery and a Comparison with Other Fireballs". J. Geophys. Res. 76 (17): 4090–4108. Bibcode:1971JGR....76.4090M. doi:10.1029/JB076i017p04090. hdl:2060/19710010847. S2CID 140675097.
  40. Campbell-Brown, M. D.; Hildebrand, A. (2005). "A new analysis of fireball data from the Meteorite Observation and Recovery Project (MORP)". Earth, Moon, and Planets. 95 (1–4): 489–499. Bibcode:2004EM&P...95..489C. doi:10.1007/s11038-005-0664-9. S2CID 121255827.
  41. Oberst, J.; Heinlein, D.; Köhler, U.; Spurný, P. (2004). "The multiple meteorite fall of Neuschwanstein: Circumstances of the event and meteorite search campaigns". Meteoritics & Planetary Science. 39 (10): 1627–1641. Bibcode:2004M&PS...39.1627O. doi:10.1111/j.1945-5100.2004.tb00062.x. S2CID 59324805.
  42. Cooke, Bill. "NASA's All Sky Fireball Network". NASA. Besoek op 3 April 2013.
  43. Website by A. Mitterling. Meteoritearticles.com. Besoek op 17 Desember 2011.
  44. Huss, G.I.; Wilson, I.E. (1973). "A census of the meteorites of Roosevelt County, New Mexico". Meteoritics. 8 (3): 287–290. Bibcode:1973Metic...8..287H. doi:10.1111/j.1945-5100.1973.tb01257.x.
  45. A Preliminary Report on the Lucerne Valley, San County, California, Aerolites Besoek op 8 Maart 2018.
  46. Meteoritical Bulletin entry for Franconia. Lpi.usra.edu. Besoek op 8 January 2020.
  47. Meteoritical Bulletin entry for Gold Basin. Lpi.usra.edu. Besoek op 8 Januarie 2020.
  48. Found Locally in Arizona: Collisional Remnants of Planetesimal Affected by Impacts During the First Billion Years of Solar System History. Bombardment: Shaping Planetary Surfaces and Their Environments 2018 (LPI Contrib. No. 2107). 30 September 2018. Besoek op 5 Februarie 2020.
  49. Yoshida, Masaru (2010). "Discovery of the Yamato Meteorites in 1969". Polar Science. 3 (4): 272–284. Bibcode:2010PolSc...3..272Y. doi:10.1016/j.polar.2009.11.001. ISSN 1873-9652.
  50. Bevan, Alex; De Laeter, John (2002). Meteorites: A Journey Through Space and Time. Washington DC: Smithsonian Institution Press. p. 55.
  51. Cassidy, William (2003). Meteorites, Ice, and Antarctica: A personal account. Cambridge: Cambridge University Press. pp. 17–20, 28–29, 337–341. ISBN 9780521258722.
  52. Delisle, George; Franchi, Ian; Rossi, Antonio; Wieler, Rainer (1993). "Meteorite finds by EUROMET near Frontier Mountain, North Victoria Land, Antarctica". Meteoritics (in Engels). 28 (1): 126–129. Bibcode:1993Metic..28..126D. doi:10.1111/j.1945-5100.1993.tb00257.x. ISSN 1945-5100.
  53. "The 2nd KOREAMET found 16 meteorites". KORea Expedition for Antarctic METeorites (KOREAMET). 19 Februarie 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 April 2008. Besoek op 17 Desember 2011.
  54. Harvey, Ralph (2003). "The origin and significance of Antarctic meteorites". Geochemistry. 63 (2): 93–147. Bibcode:2003ChEG...63...93H. doi:10.1078/0009-2819-00031.
  55. Bevan, A.W.R.; Binns, R.A. (1989). "Meteorites from the Nullarbor region, Western Australia: I. A review of past recoveries and a procedure for naming new finds". Meteorites. 24 (3): 127–133. Bibcode:1989Metic..24..127B. doi:10.1111/j.1945-5100.1989.tb00954.x.
  56. Meteoritical Bulletin Database www.lpi.usra.edu
  57. Bischoff, A.; Geiger, T. (1995). "Meteorites from the Sahara: find locations, shock classification, degree of weathering and pairing". Meteoritics. 30 (1): 113–122. Bibcode:1995Metic..30..113B. doi:10.1111/j.1945-5100.1995.tb01219.x.
  58. Schlüter, J.; Schultz, L.; Thiedig, F.; Al-Mahdi, B. O.; Abu Aghreb, A. E. (2002). "The Dar al Gani meteorite field (Libyan Sahara): Geological setting, pairing of meteorites, and recovery density". Meteoritics & Planetary Science. 37 (8): 1079–1093. Bibcode:2002M&PS...37.1079S. doi:10.1111/j.1945-5100.2002.tb00879.x. S2CID 96452620.
  59. Meteoritical Bulletin Database www.lpi.usra.edu
  60. "Guidelines for Meteorite Nomenclature".
  61. Thilo Rehren and 14 others (2013), "5,000 years old Egyptian iron beads made from hammered meteoritic iron", Journal of Archaeological Science, doi
  62. "Uiteindelik het die stadsklerk daarin geslaag om die skare tot bedaring te bring. “Efesiërs,” het hy gesê, “watter mens weet nou nie dat die stad van die Efesiërs die beskermer is van die tempel van die groot Artemis en van haar beeld wat uit die hemel geval het nie?" (Hand. 19:35)
  63. New Light on the Origin of the Holy Black Stone of the Ka'ba. Author: Thomsen, E. Journal: Meteoritics, vol. 15, no. 1, p. 87
  64. Prescott, J.R.; Robertson, G.B.; Shoemaker, C.; Shoemaker, E.M.; Wynn, J. (2004). "Luminescence dating of the Wabar meteorite craters, Saudi Arabia". Journal of Geophysical Research. 109 (E1): E01008. Bibcode:2004JGRE..109.1008P. doi:10.1029/2003JE002136.
  65. 65,0 65,1 H.H. Nininger, 1972, Find a Falling Star (outobiografie), New York, Paul S. Erikson.
  66. A. L. Christenson, J. W. Simmons' Account of the Discovery of the Winona Meteorite. Meteorite 10(3):14–16, 2004
  67. Freeman, T. W. (2015-12-14). Geographers: Biobibliographical Studies, Volume 11 (in Italiaans). Bloomsbury Publishing. ISBN 978-1-4742-2653-0.
  68. Williams, Henry Smith (1904). "5". A history of science. 3. Harper. pp. 168ff. ISBN 978-0-250-40142-0.
  69. Chladni, Ernst Florens Friedrich, Über den Ursprung der von Pallas gefundenen und anderer ihr ähnlicher Eisenmassen und über einige damit in Verbindung stehende Naturerscheinungen [Oor die oorsprong van die ystermassas wat deur Pallas gevind is en ander soortgelykes, en oor sommige verwante natuurverskynsels] (Riga, Letland: Johann Friedrich Hartknoch, 1794). Aanlyn beskikbaar by: Saxon State and University Library at Dresden, Germany.
  70. "History of Meteoritics – The Pallas Iron and E. F. Chladni". The Earth's Memory. 7 Januarie 2009. Besoek op 10 Oktober 2009.
  71. Edward Howard, John Lloyd Williams, and Count de Bournon (1802) "Experiments and observations on certain stony and metalline substances, which at different times are said to have fallen on the earth; also on various kinds of native iron," Philosophical Transactions of the Royal Society of London, 92 : 168–212. Aanlyn beskikbaar by: Royal Society
  72. J.B. Biot (1803) Relation d'un voyage fait dans le département de l'Orne, pour constater la réalité d'un météore observé à l'Aigle le 26 floréal an 11 (Parys, Frankryk: Baudouin, 1803).
  73. Darling, David "L'Aigle meteorite shower". The Internet Encyclopaedia of Science.  
  74. Theo Koupelis (2010). In Quest of the Solar System. Jones & Bartlett Learning. p. 294. ISBN 978-0-7637-6629-0.
  75. Gritzner, C. (Oktober 1997). "Human Casualties in Impact Events". WGN, Journal of the International Meteor Organization. 25: 222–6. Bibcode:1997JIMO...25..222G.
  76. Rain of Iron and Ice deur John Lewis, 1997, ISBN 978-0201154948, pp. 162–163.
  77. "Meteorite Targets: Keep Watching the Skies!". repetti.net. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2007-01-28. Besoek op 4 Mei 2013.
  78. Natural History Museum Database Geargiveer 11 Maart 2007 op Wayback Machine. Internt.nhm.ac.uk. Besoek op 17 Desember 2011.
  79. Jenniskens, Peter (1994). "The Mbale Meteorite Shower". Meteoritics. 29 (2): 246–254. Bibcode:1994Metic..29..246J. doi:10.1111/j.1945-5100.1994.tb00678.x.
  80. "Woman rocked awake by meteorite chunk crashing into her bedroom".
  81. The Meteoritical Society, Committee on Meteorite Nomenclature (Maart 2019). "Guidelines for Meteorite Nomenclature" (PDF). Besoek op 2020-02-16.
  82. "Campo del Cielo". Besoek op 28 Augustus 2014.
  83. Clarke, Roy S., Jr.; Plotkin, Howard; McCoy, Timothy (2006), "Meteorites and the Smithsonian Institution", in McCall, G. J. H.; Bowden, A. J.; Bowden, R. J., The History of Meteoritics and Key Meteorite Collections: Fireballs, Falls and Finds, Londen: The Geological Society, p. 241, ISBN 978-1862391949, https://books.google.com/books?id=7SvtVoa1W-cC&q=nogata+meteorite&pg=PA16 
  84. JPL (16 Februarie 2012). "Russia Meteor Not Linked to Asteroid Flyby". Jet Propulsion Laboratory. Besoek op 19 Februarie 2013.
  85. "CBET 3423 : Trajectory and Orbit of the Chelyabinsk Superbolide". Astronomical Telegrams. International Astronomical Union. 23 Februarie 2013.
  86. BBC (18 Februarie 2012). "Meteorite fragments found in Russia's Urals region". BBC News. Besoek op 19 Februarie 2013.

Skakels

  • Huidige nuusartikels oor meteoriete
  • Die Britse en Ierse Meteorietvereniging
  • Die meteorietdatabasis van die Britse Natuurhistoriese Museum
  • Meteorietvereniging
  • Earth Impact-databasis
  • Elke aangetekende meteorietimpak op Aarde, van Tableau Software
  • Meteoorslagkraters oor die hele wêreld
  • Nuvola apps bookcase 2.svg Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.
Normdata Edit this at Wikidata