Roedolf van Frankryk

Roedolf
Roedolf van Frankryk

Voorafgegaan deur Robert I van Frankryk
Opgevolg deur Lodewyk IV

Voorafgegaan deur Richard I
Opgevolg deur Hugo die Swarte

Persoonlike besonderhede
Gebore Omstreeks 890
Sterf 15 Januarie 936
Auxerre, Wes-Frankië
Religie Rooms-Katoliek

Roedolf van Frankryk, ook bekend as Raoul of Rodolphe in Frans (Omstreeks 890 - 15 Januarie 936, Auxerre) was tussen 923 en 936 koning van Wes-Frankië. Hy was die seun van Hertog Richard I van Boergondië.

Naam

In kontemporêre Latynse dokumente uit die Middeleeue word sy naam gewoonlik aangegee as Rodulfus, van die Germaanse wortels hruod, "roem, glorie", en wulf, "wolf". Rodoelf en Roedolf is variante van hierdie naam; die Franse vorm is Rodolphe. Daarenteen staan die koning bekend as Raoul in moderne Frans, 'n naam wat afgelei is van Radulfus, van die Germaanse rad, "raad" en wulf. Alhoewel hierdie naam verskillende oorspronge het, is dit soms uitruilbaar met Rodulfus deur tydgenote gebruik. Die koning self het egter altyd Rodulfus gebruik, soos op sy persoonlike seël.[1]

Agtergrond

Voor sy verkiesing as koning was Roedolf die hertog van Boergondië, en vanaf 1921 graaf van Troyes. Hy het die Hertogdom van Boergondië geërf van sy vader, Richard I, en is getroud met Emma, dogter van Koning Robert I van Frankryk. Hy is verkies om sy vader, wat in 923 gedood is tydens die Slag van Soissons, op te volg teen die afgesette koning Karel die Eenvoudige. Hy is gekroon op 13 Julie 923 in Sint Médard, Soissons deur Walter, Aartsbiskop van Sens. By sy kroonbestyging het hy die Graafskap van Boergondië oorgegee aan sy jonger broer, Hugo die Swarte.

Bewind

Denier van Roedolf

Die afgesette Karel die Eenvoudige het steeds geleef en die troon geëis. Die kwessie is opgelos toe Roedolf se swaer, graaf Herbert II van Vermandois, wat met Emma se suster getroud was, vir Karel, 'n mede Karolingiër, om die bos gelei het en hom toe gevange geneem het.

Roedolf se eerste optrede was om 'n leër te lei teen die koning van Oos-Frankië, Hendrik die Voëlkyker, wat 'n ruk tevore 'n ooreenkoms met koning Robert I in Jülich gesluit het. Nadat Hendrik probeer het om die Hertogdom Lotaringië te annekseer, het hy opgeruk teen Roedolf met 'n groot leër, maar weer vrede gemaak. In 925 het Hendrik egter vir Giselbert II aangeval en Lotaringië permanent oorgeneem, terwyl Roedolf nie in staat daartoe was om weerstand te bied nie.

In 924 het die Wikings 'n nuwe reeks strooptogte in Wes-Frankië uitgevoer. Hulle het vanuit die Loirevallei vir Hugo die Grote, broer van koningin Emma, gedreig, maar Roedolf het niks gedoen nie. Kort voor lank het hulle Boergondië, die gebied van Roedolf se broer, aangeval. Hulle is teruggedryf en het aanbeweeg na Melun, waar hulle die koninklike gebiede bedreig het. Roedolf het, vergesel van slegs sy vasalle en Herbert, troepe in Boergondië gewerf, terwyl Hugo die Grote oortuig is om by hom aan te sluit. Nadat die Wikings verdryf is het die Normandiërs, wat Karel die Eenvoudige in 911 in die Hertogdom Normandië gevestig het, hierdie hele streek begin verwoes. Herbert en Arnulf I van Vlaandere het by Roedolf aangesluit en saam het hulle Eu, Seine-Maritime ingeneem. Hulle is egter naby Fauquembergues in 'n lokval gelei. Gevolglik is die koning verwond en die graaf van Ponthieu gedood. Baie Normandiërs is egter ook op die slagveld agtergelaat.

In dieselfde jaar het Roedolf gesprekke gehad met Lodewyk die Blinde oor die Magjare, wat op daardie stadium die nuutste barbaarse migrante in Europa was en Lodewyk bedreig het. In 930 het die Magjare die streek rondom Reims binnegeval, maar padgegee voordat die koning hulle kon beveg. In 935 het die Magjare Boergondië binnegeval. Roedolf het met 'n groot leër teen hulle opgeruk, sodat hulle sonder 'n geveg teruggetrek het. By Roedolf se afsterwe was Wes-Frankië derhalwe vir 'n wyle veilig teen beide die Wikings en die Magjare.

Ten einde sy eie mag te versterk, het Herbert II van Vermandois in 925 gebruik gemaak van sy koninklike gevangene (die afgesette Karel die Eenvoudige) om die aartsbiskopdom van Reims vir sy seun Hugo van Vermandois te beklink, en in 927 die graafskap van Laon vir sy seun Odo. Roedolf se klagtes het Herbert II beweeg om Karel voor Willem I te bring om 'n eed van trou af te lê, waarna hulle na Reims is om Karel se eise op Pous Johannes X te versterk. In 928 het Herbert II uiteindelik in besit gekom van Laon, maar Karel die Eenvoudige sterf die volgende jaar in Péronne. Herbert II het gevolglik sy wurggreep op Roedolf verloor.

Nadat hy die Wikings van Limousin verslaan het, het Roedolf 'n eed van getrouheid van Willem I en die Akwitaniërs ontvang. Roedolf het in 933 die eilande (die hedendaagse Kanaal-eilande) aan die kus van Normandië aan Willem I gegee.[2]

Roedolf het in 929 probeer om die mag van hertog Ebalus van Akwitanië te verminder. Hy het sy toegang tot Berry teruggetrek en in 932 die titel van prins van Gotië verleen aan die graaf van Toulouse, Raymond Pons, en sy broer Ermengol van Rouergue. Hy het ook die graafskap van Auvergne oorgeplaas na Raymond. Boonop is die gebied van die markgraafskap wat onder die beheer van Charroux geval het omskep in 'n onafhanklike graafskap. Later het Roedolf egter 'n veldtog met Ebalus in die suide gevoer om die laaste Wiking-vestings daar uit te roei. Hy het toe aggressief teen Herbert II voortgegaan, Rheims binnegemarsjeer en in 931 vir Hugo met Artald vervang. Roedolf het hierna saam met Hugo die Grote Herbert II se vestings verbrand en hom in Château-Thierry vasgekeer, die einste plek waar Herbert II aanvanklik vir Karel die Eenvoudige van 933 tot 934 gevange gehou het. Die twee het egter in 935 vrede gesluit. Roedolf het daarna skielik siek geword, en 'n paar maande later op 14 of 15 Januarie 936 gesterf.

Huwelik en kinders

Roedolf I trou in 921 met Emma van Frankryk, dogter van Robert I van Frankryk en Beatrix van Vermandois. Hulle het twee kinders gehad, maar nie een het hul kinderjare oorleef nie:

  • Lodewyk (sterf op 14 Junie 929)
  • Judith

Voorouders

Voorouders van Rudolf van Frankrijk (890-936)
Overgrootouders ? (-)

[? (-)
Boso van Arles (~780-855)

? (-)
Koenraad I van Auxerre (800-863)
∞ 1180
Adelheid van Tours (-na 866)
? (-)

? (-)
Grootouders Bivinus van Metz (810-863/869)
∞ 1180
Richildis (-)
Koenraad II van Auxerre (835-876)

Waldrada (-)
Ouders Richard I van Boergondië (855-921)

Adelheid van Boergondië (870-929)
Voorafgegaan deur
Richard I
Hertog van Boergondië
921–923
Opgevolg deur
Hugo
Voorafgegaan deur
Robert I
Koning van Wes-Frankië
923–936
Opgevolg deur
Lodewyk IV

Bronne

  • Christian Settipani, La Préhistoire des Capétiens (481-987). Eerste deel : Mérovingiens, Carolingiens et Robertiens, Nouvelle histoire généalogique de l'auguste maison de France, vol. 1, Patrick van Kerrebrouck (red.), Villeneuve d'Ascq, 1993.
  • Rudolf in Foundation for Medieval Genealogy
  • Gwatking, H. M., Whitney, J. P., et al. Cambridge Medieval History: Volume III—Germany and the Western Empire. Cambridge University Press: Londen, 1930.

Verwysings

  1. Jean Dufour, Recueil des actes de Robert Ier et de Raoul, rois de France: 922–936 (Parys, 1978), bl. lxvii.
  2. Stapleton, Thomas (1840). Magni rotuli scaccarii Normanniæ sub regibus Angliæ. p. lii.
Normdata Edit this at Wikidata