Uniegebou

Uniegebou in Pretoria, omtrent 1925.
Uniegebou in Pretoria, omtrent 2004.
Uniegebou se tuine

Die Uniegebou (Engels 22: Union Buildings) is geleë op Meintjieskop, die hoogste punt in Pretoria, in die noorde van die voorstad Arcadia. Sedert sy voltooiing dien dit as die amptelike setel van die Suid-Afrikaanse regering. Dit bevat ook die kantoor van die President van Suid-Afrika. Dit word waarskynlik die beste onthou as die plek waar Suid-Afrika se eerste demokraties-verkose president, Nelson Mandela, in Mei 1994 ingehuldig is. Terwyl die gebou self nie toeganklik is vir die publiek nie, staan die buiteterras en tuine oop vir besoekers en bied 'n unieke uitsig oor die Jakarandastad.

Die gebou, wat uit ligte sandsteen gebou is, is ontwerp deur die argitek sir Herbert Baker in die Engelse monumentstyl. Dit is 275 m lank en in die vorm van 'n halfmaan gebou. Die twee sye verteenwoordig die Afrikaner- en Engelse dele van die destydse blanke bevolking.

Die hoeksteen is in November 1910 gelê, kort nadat die Unie van Suid-Afrika – waarna die geboue genoem is – gevorm is. Die bouery het 1 265 werkers langer as drie jaar besig gehou, en is in 1913 voltooi teen 'n totale koste van £1 310 640 vir die gebou en £350 000 vir die terrein. Die Uniegebou is 'n Suid-Afrikaanse Erfenisterrein.[1]

Ook van belang is die tuine wat die geboue omring, bestaande uit slegs inheemse plante, en die amfiteater met 9 000 sitplekke.

Klokkespel

Die lui van die klokke by die Uniegebou is identies aan dié klokkespel van Big Ben in Londen.[2] Jare gelede het die SAUK hul nuusbulletins begin met hierdie klokkespel. Die klokke en horlosie van die Uniegebou het in 2014 weens ’n meganiese fout opgehou werk.[3]

Fotogalery

  • Pretoria gesien vanaf die Uniegebou

    Pretoria gesien vanaf die Uniegebou

  • Die oostelike vleuel van die Uniegebou verteenwoordig die Engelse bevolking van Suid-Afrika

    Die oostelike vleuel van die Uniegebou verteenwoordig die Engelse bevolking van Suid-Afrika

  • Die westelike vleuel van die Uniegebou verteenwoordig die Afrikaanse bevolking van Suid-Afrika

    Die westelike vleuel van die Uniegebou verteenwoordig die Afrikaanse bevolking van Suid-Afrika

  • Monument van die Suid-Afrikaanse Polisiediens by die Uniegebou

    Monument van die Suid-Afrikaanse Polisiediens by die Uniegebou

  • Historiese vlootkanon buite die geboue

    Historiese vlootkanon buite die geboue

  • Beeld van Nelson Mandela by die Uniegebou

    Beeld van Nelson Mandela by die Uniegebou

Sien ook

Verwysings

  1. "National Heritage Site, Union Buildings" (in Engels). Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap. 22 Februarie 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Augustus 2018. Besoek op 20 Januarie 2017.
  2. "The Heritage Portal: Union Buildings' Bells to ring again (hopefully)" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Maart 2015. Besoek op 8 Oktober 2015.
  3. "Beeld: 2014/02/06". Besoek op 8 Oktober 2015.[dooie skakel]

Eksterne skakels

Wiki-webtuistes

Amptelike webtuiste van die Suid-Afrikaanse Presidentskap

  • (en) Die Presidentskap – Uniegebou
Geskiedenis

  • (en) The Heritage Portal – The Birth of the Union Buildings
Boukuns

  • (en) Artefacts.co.za: Union Buildings
Kaarte

  • (en) Uniegebou en terrein uit die lug uit gesien (WikiMapia)

Koördinate: 25°44′25.68″S 28°12′43.28″O / 25.7404667°S 28.2120222°O / -25.7404667; 28.2120222

Normdata Edit this at Wikidata